Tigers, Wanderers rek hul voorsprong

Krieket
JJ Smit het Old Boys met 158 lopies gekelder. Hy het in vier klubwedstryde sover 402 lopies geslaan.
Tielman Van Lill
Die eerste spanne van CCD Tigers en APS Wanderers het Saterdag met seges teen onderskeidelik Trustco United en ATG WHS Old Boys 1 beide vier punte opgeraap en die gaping tussen hulle en die onderste twee spanne op die puntelys vergroot.

Die uitslae van die vierde ronde van Krieket Namibië se eendagpremierliga by United en Wanderers in die hoofstad was nie juis ‘n verrassing nie.

Wanderers het opnuut meer as 300 lopies in hul kolfbeurt opgestapel. Tigers het United in 30.5 boulbeurte uitgehaal en slegs 111 lopies benodig om die kragmeting te wen.

By Wanderers se veld in Pionierspark het die gasheerspan eerste gekolf en 316 almal uit in 49.3 boulbeurte aangeteken. Old Boys het probeer terugveg tot 191 almal uit, maar is in 46.3 boulbeurte uitgeboul om die botsing met 125 lopies te verloor.

JJ Smit het die hoogste individuele kolftelling van die huidige seisoen geslaan en meer as die helfte van sy span se telling aangeteken. Sy massiewe 158 lopies van 125 balle sluit ses viere en dertien sesse ingesluit.

Michau du Preez (31), Karl Birkenstock (26) en Bernard Scholtz het Wanderers se totaal verder laat klim, terwyl Old Boys 40 ekstras afgestaan het (25 wydlopers).

Smit se vennootskap met Du Preez het 112 lopies om die vierde paaltjie opgelewer, terwyl Smit en Birkenstock die telling van 144/4 tot 244/5 gevoer het.

Smit het 53 balle vir sy vyftigtal benodig, terwyl sy honderdtal van 93 balle aangeteken is.

Dylan Leicher het uitstekend vir Old Boys geboul en vyf kolwers vir 50 lopies in 9.3 boulbeurte met ‘n ekonomie van 5.26 per boulbeurt uitgehaal. Grant Henry (4/77 in 8) is redelik swaar vir 9.62 per boulbeurt gestraf.

Old Boys se meeste lopies het van Shaun Fouché (45 van 49 balle, 3x4), Zacheo Janse van Rensburg (34 van 56 b, 4x4) en Dylan Leicher (23 van 36 b, 3x4) gekom.

Grenshoue: Wanderers 28 (10x4, 18x6), Old Boys 19 (18x4, 1x6).

Wanderers se draaibalboulers Bernard Scholtz (3/37 in 10, ekon. 3.7) en PD Blignaut (2/33 in 7.3, ekon. 4.4) het verwoesting gesaai.



CCD BLY BOAAN

By United se veld het Tigers 111/3 in 21.4 behaal om United (110 almal uit in 30.5) met sewe paaltjies te klop.

Joshuan Julius (61 van 64 b, 5x4, 3x6) was opnuut puik met die wilgerlat vir Tigers, terwyl Ramon Wilmot (20 nie uit nie van 57 b, 1x4) tot hul 103-aanvangsvennootskap bygedra het. United het 29 ekstras afgestaan (22 wydlopers).

Willem Myburgh het twee paaltjies vir 12 lopies in 5.4 vir Uinted geoes en was teen 2.12 per boulbeurt uiters ekonomies.

Handré Klazinga (23 van 28 b, 1x4, 1x6) was United se voorste lopiemaker. Zane Green (21 van 21 b, 3x4) en Gerhard Janse van Rensburg (18 van 32 b, 1x4) het ná hom gevolg.

CCD se kaptein Nicol Loftie-Eaton (3/15 in 5.5, ekon. 2.57) het United se later kolwers geteister. Ben Shikongo, Mauritius Ngupita en Salomon Nuuyoma het met twee paaltjies elk die aanvanklike skade aangerig en het verhinder dat United momentum met enige vennootskap kon opbou.

Grenshoue: Tigers 9 (6x4, 3x6), United 9 (8x4, 1x6).

[email protected]