Sri Lanka gee afrigterstaak aan Jayasuriya

Krieket
Tielman Van Lill
Sanath Jayasuriya, voormalige krieketkaptein van Sri Lanka en eens hul hoofkeurder, het gister gesê hy sal die nasionale span se nuwe hoofafrigter word.

Chris Silverwood, voormalige hoofafrigter, het bedank kort ná die span se onlangse vroeë uittog uit die 2024 T20-Wêreldbekertoernooi.

Jayasuriya (55) het onthul hy is deur Sri Lanka Krieket versoek om die nasionale span af te rig voor 'n witbalreeks teen Indië vandeesmaand, asook Sri Lanka se toer na Engeland in Augustus.

“Ek is gevra om die afrigting oor te neem en dit verskaf my vreugde om dit te kan doen,” het Jayasuriya aan AFP gesê.

Jayasuriya, 'n voormalige toets- en eendagkaptein, was ook 'n nasionale keurder. Hy sal die leisels ná afloop van die huidige T20 Lanka Premierliga op 21 Julie oorneem.

Jayasuriya het Sri Lanka altesame 586 keer oor die drie formate van die spel verteenwoordig, 42 honderdtalle geslaan en 440 paaltjies geneem. Hy het sy laaste internasionale wedstryd in 2011 gespeel.

Sri Lanka Krieket, wat Silverwood (49) vir sy “waardevolle bydraes tydens sy termyn” bedank het, sê die voormalige Engelse afrigter het weens “persoonlike redes” uitgetree.

Sri Lanka het slegs een wedstryd by die T20 Wêreldbeker-toernooi teen Nederland gewen en derde na Suid-Afrika en Bangladesj in hul groep geëindig.

Silverwood het in April 2022 oorgeneem en het onmiddellike sukses geniet, aangesien Sri Lanka later daardie jaar die T20-Asiëbeker gewen het.

Hulle het die eindstryd van die Asiëbeker in 2023 gehaal. Maar hulle kon nie tot die uitklopfases van die T20-Wêreldbekertoernooi in 2022, óf van verlede jaar se 50-boulbeurt-Wêreldbekertoernooi deurdring nie. By eersgenoemde toernooi het ‘n skoknederlaag teen die Namibiese Eagles die krieketwêreld se koppe laat draai.

Nog ‘n voormalige nasionale kaptein, Mahela Jayawardena, het ook verlede maand as “konsultant-afrigter” uitgetree.

– Bygewerk van SuperSport