Southern Kings beklink eerste Nedbank T20 Desert Ice Challenge

Krieket
Tielman Van Lill
Die Nedbank T20 Desert Ice Cricket Challenge-reeks het gister sy eerste kampioen by die Affies-krieketveld in Pionierspark opgelewer toe die Run Whisperers Southern Kings (217 vir 2 in 18.1 boulbeurte) die Unam Zebras (216/4 in 20) met agt paaltjies in ‘n opwindende eindstryd geklop het.

Die Zebras het wel ‘n lywige totaal op die telbord geplaas, maar die Kings se topvier kolwers het gemaklik met die takie klaar gespeel.

Nyasha Nyashadzaishe (63 lopies van 27 balle, 6x4, 4x6), Adriaan Coetzee (32, 21 b, 4x4, 1x6), Wessel Myburgh (63 nie uit nie van 36 b, 6x4, 4x6) en Karl Birkenstock (46* van 26 b, 5x4, 2x6) het behoorlik vir die Kings in die tweede beurt gekook.

Nyashadzaishe was as speler van die eindstryd aangewys.

Tonde Musakanda (1 paaltjie vir 26 in 2 boulbeurte) en Ankur Kathuria (1/15 in 2) het onderskeidelik van Nyashadzaishe en Coetzee ontslae geraak.

Die kolwers wat vir die Zebras se groot totaal verantwoordelik was, was Muhammad Waqas (46 van 28 balle, 6x4, 1x6), Tonde Musakanda (57 van 28 b, 2x4, 6x6), Muhammad Kashif (39* van 22 b, 4x4, 1x6), Shafiek Abduraghman (25 van 17 b, 1x4, 2x6) en Kalimullah Khan (23* van 13 b, 2x6), tesame met 24 ekstras.

Birkenstock met 2/38 in vier boulbeurte en Nyashadzaishe (1/23 in 4) het goed vir die Kings geboul.



Semifinaal 1

Saterdagoggend by dieselfde veld het die Southern Kings die Green Mambas gemaklik met tien paaltjies uitgeskakel. Die Mambas het eerste gekolf en is vir 114 lopies in 20 boulbeurte uitgeknikker.

Nyashadzaishe en Abri Oberholzer (kaptein) het die Kings se kolfbeurt geopen en het binne 9.1 boulbeurte met 115 lopies die wentelling behaal. Nyasha was in ‘n verwoestende bui met 68 nie uit nie van 29 balle (5x4, 6x6), terwyl Oberholzer hom uitstekend met 34* (26 b, 5x4) ondersteun het.

André Jansen (26 van 30 b, 5x4) en Willie Junius (21 van 29 b, 2x4) was die Mambas se topkolwers. Die Kings se voorste boulers was Oberholzer (3/17 in 4) en Benjamin Jha (2/12 in 2).



Semifinaal 2

Die Unam Zebras het hul kragmeting met 14 lopies teen Gobabis (181/8 in 20) met 195/6 in 20 beklink.

Waqas (95 van 56 b, 5x4, 7x6) het briljant gekolf en saam met die vyftigtal van ‘n ewe gevaarlike Mika Mutumbe (50 van 29 b, 5x4, 3x6) is 145 lopies vir die Zebras op die telbord geplaas.

Tatenda Sithole, Geneous Mutsira, Jandré Schlechter en Dirkie van Wyk het elk een paaltjie vir Gobabis laat kantel.

Stewige kolfbydraes vir Gobabis is deur Kobus Brand (34 van 26 b, 2x4, 1x6), Samson Chivi (32 van 21 b, 2x4, 3x6), Drikus Swart (29 van 17 b, 3x4, 2x6) en Henré Opperman (26 van 21 b, 2x4) gelewer.

Die einste Waqas met 4/15 in 3 was opnuut gevaarlik vir die Zebras en is as speler van die wedstryd aangewys. Hy was goed deur Jignesh Panchal, Kalimullah Khan en Ankur Kathuria met een slagoffer elk ondersteun.

[email protected]