Silwermedalje vir vroue-Eagles

Krieket
Zimbabwe was vooraf die hoogste gerekende span, maar moes met die derde plek tevrede wees.
Tielman Van Lill
In die laaste T20-wedstryd van die Capricorn Drienasies-krieketreeks in Windhoek tussen die Capricorn Eagles, die Verenigde Arabiese Emirate en Zimbabwe het die Namibiese vroue Saterdagnamiddag hul derde kragmeting teen Zimbabwe met 24 lopies gewen.

Die Namibiërs het eerste gekolf en ‘n stewige 127 vir 5 paaltjies in 20 boulbeurte opgestapel. Zimbabwe kon slegs met 103 almal uit in 19.5 antwoord.

Mezerly Gorases (45 lopies van 53 balle, 4x4) en die susters Mekelaye Mwatile (23 van 20, 2x4) en Wilka Mwatile (22 nie uit nie van 15, 3x4) was die tuisspan se voorste lopiemakers. Mekelaye het hierna ook drie paaltjies laat kantel en Wilka twee. Wilka is as speler van die wedstryd bekroon.

Die reeks

Die Emirate het vyf uit ses oorwinnings – teen Namibië (3) en Zimbabwe (2) – bewerkstellig om die reekssege te beklink.

Die tuisspan se 50 persent sukseskoers het aan hulle die silwermedaljes besorg. Vreemd genoeg het hulle drie uit drie teen Zimbabwe as die hoogste gerekende span in die toernooi gewen, maar kon nie een keer sukses behaal teen die Emirate (teen wie hulle in Desember ‘n reeks in Dubai met 4-2 gewen het nie).

Die Emirate het die laagste totaal (93 almal uit in 17) asook die hoogste (148/5 in 20) – beide in ontmoetings teen Zimbabwe – aangeteken.

Die Emirate het Namibië in volgorde met 7 paaltjies, 15 lopies en 4 paaltjies oorrompel en Zimbabwe met 5 en 9 paaltjies afgesien.

Die Eagles het Zimbabwe met 3 paaltjies en 6 paaltjies asook met 24 lopies oorskadu, terwyl Zimbabwe die Emirate in hul eerste botsing met 3 paaltjies geklop het.

Reeks se topkolwers

Van die Emirate was Theertha Satish met 245 lopies (36x4, 1x6) en hul kaptein Esha Oza (209, 23x4, 5x6) die suksesvolste met die kolf, gevolg deur die gasheerspan se kaptein Suné Wittmann (159, 22x4, 1x6).

Die vierde en vyfde plek op die lys is deur Chipo Mugeri-Tiripano (146, 13x4) en Beloved Biza (130, 12x4) van Zimbabwe ingeneem.

Reeks se topboulers

Namibië se Arrasta Diergaardt (9/93 in 17 teen 5.47) en Beloved Biza (9/109 in 17.1, 6.35) het elkeen nege paaltjies in ses wedstryde laat kantel. Diergaardt se beste was toe sy 4/15 teen die Emirate geneem het.

Wilka Mwatile (8/111 in 20.5, 5.33), Esha Oza (8/116 in 19, 6.11) en Vaishnave Mahesh van die Emirate (8/109 in 17.1, 6.35) was ook uitstaande.

Spelers van die reeks

Esha Oza (623 punte), Theertha Satish (550), Wilka Mwatile (385), Beloved Biza (361) en Suné Wittmann (328) se individuele bydrae is die hoogste gereken.

Altesame 2 171 lopies is in die nege T20’s van 2 055 aflewerings geslaan, terwyl 116 paaltjies geval het. In totaal is 202 viere en 16 sesse is na die grenstou gejaag.

Die hoogste individuele kolftelling is deur Esha Oza (81* van 54 balle teen Zimbabwe) behaal en Kuozai Chigora van Zimbabwe spog met die enigste vyfpaaltjie-oes (5/7 teen die Emirate).

[email protected]