Old Boys en nuwe borg pas bymekaar

Krieket
Tielman Van Lill
WHS Old Boys-krieketklub se eerste span sal vir die volgende krieketseisoen deur Afri-Track Group Holdings (ATG) geborg word.

Die aankondiging is gisteroggend deur Kelvin Kaisi, direkteur van ATG, by die groep se hoofkantoor in Windhoek gedoen. Die borgskap beloop N$50 000 per seisoen.

Kaisi het aan Sport Wrap gesê: “Dit is ‘n opwindende dag vir ons en dis ATG se eerste korporatiewe borgskap vir sport. Ek dink ons ‘huwelik’ met Old Boys-krieketklub is ‘n natuurlike een.

“As ‘n besigheid is ons verbonde by die ontwikkeling van infrastruktuur en ons grondslag is die bou van spoorlyne in Namibië. Oor die jare het die maatskappy sy visie verbreed en is ook by ander sektore in die Namibiese ekonomie betrokke.

“Ons borgskap is geïnspireer deur die fantastiese werk wat deur Krieket Namibië gedoen word, veral in terme van die ontwikkeling van spelers en die bestuur van die sportkode in geheel.

“Old Boys-krieketklub doen presies dieselfde en dus was dit vir ATG die mees natuurlike ding om sy gewig agter Old Boys in te gooi.

“Ons wil graag deel van sport en die ontwikkeling van krieket in Namibië wees en ek sien die borgskap nie as net vir een seisoen nie. Ons sien dit as ‘n langtermynbelegging by Old Boys en in die groei van krieket in die land.

Old Boys, wat by Windhoek Hoërskool se FNB Vegkopstadium gebaseer is, se voorsitter Francois Erasmus het gesê: “Dis ‘n heuglike dag vir krieket en vir Old Boys-krieketklub. Ons is geweldig ingenome om die borgskap van ATG te ontvang en verheug om hulle as vennote aan boord te hê.

“Baie min korporatiewe besighede en besigheidsmense sien deesdae hul weg oop om tot sport en die ontwikkeling van spelers by te dra. Ek dink Old Boys en Afri-Track pas goed bymekaar.

“Old Boys se visie die afgelope vyftien jaar was om jong spelers te ontwikkel wat in die toekoms vir die nasionale span kan speel. Old Boys se rekord bewys bo alle twyfel dat ons dit die afgelope dekade reggekry het.

“Verskeie van die nasionale spelers wat tans vir die Richelieu Eagles speel, is produkte van Old Boys-krieketklub se jarelange verbintenis tot ontwikkeling.

“Baie dankie aan Afri-Track vir jul ondersteuning en ons hoop dit gaan ‘n lang en vrugtevolle vennootskap wees waarby beide partye baat sal vind.”

Die eerste balle van die 2024-2025-krieketseisoen in Namibië sal komende Saterdag geboul word met die openingswedstryde van die T20-ligas.

[email protected]