O.19-span arriveer vir taak in Lagos
Krieket
Met baie op die spel vir elk van die ses spanne, en moontlike reënweer in die komende dae, is 'n toernooi vol spanning en drama in die vooruitsig.
Afrigter Oscar Nauhaus en sy Namibiese junior span het gister in Lagos, Nigerië aangekom vir hul aanslag op die Internasionale Krieketraad (ICC) se kwalifiserende toernooi vir Afrika-lande vir volgende jaar se o.19 Wêreldbekertoernooi.Namibië sal ‘n medegasheerland vir die junior Wêreldbeker wees saam met Zimbabwe – maar vanweë eersgenoemde se swakker plasing op die ranglys sal sy span deur die uitduntoernooi moet vorder en verkry nie outomaties die reg om deel te neem nie.
Die Walvis Bay Salt Eagles (Namibië o.19), onder die kapteinskap van Francois (Faf) du Plessis, is een van ses spanne wat vir die enkele kwalifiserende posisie meeding.
Die Namibiërs sal as die verdedigende kampioen in die Afrika-toernooi heelwat aandag op hulle gevestig hê – ná hul triomf in Julie 2023 in Dar es Salaam, Tanzanië, en gevolglike deelname by verlede jaar se o.19 Wêreldbeker in Suid-Afrika.
Hoewel die junior Eagles tradisioneel ‘n sterk kandidaat en gereelde wenner van die Afrika-uitduntoernooi is, het hul geskiedenis in onlangse jare ook uitgewys dat spanne soos Nigerië en Tanzanië ook op ‘n gegewe dag ‘n piesangskil kan wees. Geen opponent se ambisie durf ligtelik opgeneem te word nie, want daar is min ruimte vir ‘n glips in die uitslae.
Met reënweer ook ‘n moontlikheid in Lagos in die komende dae is daar gewis geen waarborge nie, behalwe dat nog ‘n toernooi propvol spanning en drama in die vooruitsig is.
Afrigter Nauhaus het gister uit Lagos laat weet die toergroep voel die plaaslike hitte, met die windjie wat sake soms help afkoel.
“Die kolfblaaie lyk goed en ’n mens kan sien hulle werk al lank aan die voorbereiding.
“Elke land hier se spelers het vir dieselfde doel gewerk en die algemene standaard is redelik hoog. Dit kan moontlik in ‘n toernooi ontwikkel waarin enige span een dag kan wen en die volgende dag verloor.
“Ons eerste taak is natuurlik die wedstryd teen Nigerië en om elke wedstryd te wen om seker te maak ons kwalifiseer.”
Die Namibiërs se wedstrydprogram (daaglikse begintyd 09:30 in Lagos / 10:30 Namibiese tyd):
Vrydag 28 Maart: tn Nigerië.
Saterdag 29 Maart: tn Sierra Leone.
Sondag 30 Maart: loslootjie vir Namibië.
Maandag 31 Maart: Rusdag vir alle spanne.
Dinsdag 1 April: tn Tanzanië.
Woensdag 2 April: tn Uganda.
Donderdag 3 April: loslootjie vir Namibië.
Vrydag 4 April: Rusdag vir alle spanne.
Saterdag 5 April: tn Kenia.
Sondag 5 April: loslootjie vir Namibië.
Maandag 7 April: Toerspanne vertrek.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article