Myburgh verby tienduisend lopies

Klubkrieket
Die gesoute aanvangskolwer spot dat hy nog vir die volgende 25 jaar vir die klub gaan speel.
Andrew Poolman
‘n Baie seldsame mylpaal – inderdaad ‘n eerste – het Wessel Myburgh te beurt geval, wat in die afgelope seisoen amptelik die kerf van 10 000 lopies in ‘n loopbaan vir APS Samsung Wanderers-krieketklub in alle ligas oortref het.

Die 34-jarige Myburgh het in 2009, 2010 en 2014 sporadies speelkans vir Namibië in eersterangse, eendag- en T20-krieket gekry, sonder om werklik op internasionale vlak deur te breek.

Vir Wanderers het hy egter sedert sy debuut in Januarie 2005 dubbel en dwars sy kant gebring – wat die afgelope naweek by die klub se jaareindfunksie met ‘n spesiale toekenning vereer is.

Vandat Wynand Louw, Thalia Louw en hul dogter Juanné Engelbrecht die klub se aanlyn databasis (www2.cricketstatz.com) in die 2007-2008 seisoen begin byhou het, is die opgesomde totale van Myburgh se klubloopbaan iets ysliks.

Myburgh het 269 wedstryde in alle ligas vir Wanderers gespeel, met 10 163 lopies in 256 kolfbeurte (52 keer nie uit nie), ‘n kolfgemiddeld van 49.82 en kolftempo van 95.6%. Met 69 vyftigtalle en 17 honderdtalle

Hoewel hy as ‘n bouler minder gereken is, kan hy inderdaad ook reeds met 54 paaltjies spog, wat ‘n beste vertoning van 7/11 teen Otjiwarongo insluit.

Myburgh sê om die eerste te wees wat amptelik ‘n regmerkie agter hierdie mylpaal kan plaas, voel baie goed en hy waardeer die klub se erkenning.

“Ek wil vir jou sê, hierdie is definitief nie waar ek gaan ophou nie. Ek spot so tong in die kies dat Wanderers-krieketklub nog vir 25 jaar met my opgeskeep gaan sit.”

Van die vele hoogtepunte lig hy die kolfbeurt vir sy hoogste kolftelling as ‘n gunsteling uit – 169 nie uit nie vir die eerste span teen Unam Strikers in Maart 2014 by Wanderersveld, wat hy van 75 balle behaal het met 14 viere en 12 sesse.

Sy 153 wedstryde vir die eerstespan vorm bykans tweederdes van sy totaal. Maar hy aanvaar ook met graagte die verantwoordelikheid om in die tweedespan by te dra om die klubkultuur ook by die jonger ontluikende geslag te help vestig.

“Op laerskool was ek ‘n bouler tot ek weens ‘n besering ‘n aanpassing moes maak. In oefeninge het ek met ‘n besemstok en ‘n gholfbal aan my vaardigheid en tydsberekening geslyp om daai kontakpunt te vind.

“My raad aan die jonges is om baie balle te slaan en nie sommer moed op te gee nie. Krieket Namibië doen baie goeie werk en daar is baie geleenthede. Ek dink terug hoe ons as skoolseuns miskien drie of vier wedstryde in ‘n seisoen gespeel het; deesdae speel hulle maklik soveel keer in een maand.”



Sportman van die jaar

Die staatmaker linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz is as opnuut sportman van die jaar aangewys, ná ‘n seisoen waarin Wanderers se eerste span opnuut Krieket Namibië se 50-boulbeurt premierliga ingepalm het deur CCD Tigers in die eindstryd te verslaan.

Die 33-jarige Scholtz was een van ses Wanderers-spelers wat in die afgelope seisoen nasionale kleure met die senior Richelieu Eagles verwerf het. Scholtz, Niko Davin en JJ Smit was lede van die ICC T20 Wêreldbeker-groep, met JC Balt, PD Blignaut en Lo-han Louwrens wat ook Namibië verteenwoordig het.

Blignaut en Hansie de Villiers het vir die Walvis Bay Salt junior Eagles in die ICC O.19 Wêreldbeker gespeel.



Ander pryswenners (alle ligas)

Honderdtalle: Niko Davin (105 van 62 balle teen United); Lo-han Louwrens (107 van 107 balle teen United).

Vyf of meer paaltjies in ‘n wedstryd: Karl Birkenstock 8/15 in 8 bb teen United; Herschelle van Schalkwyk 5/28 teen CCD-II.

Mees lojale ondersteuners: Koos en Maryna.

Eersteliga, beste kolwer: Willie de Jager, 259 lopies in agt kolfbeurte; gemiddeld 37; drie vyftigtalle.

Eersteliga, beste bouler: JP Blignaut, 12 paaltjies vir 142 lopies in 24 boulbeurte; gemiddeld 11.83.

Eersteliga, beste veelsydige speler: Willie de Jager, 259 lopies; sewe paaltjies; vyf vangskote.

Premierliga Twee, beste kolwer: Wessel Myburgh, 363 lopies in 11 kolfbeurte (drie keer nie uit nie), gemiddeld 45.38; drie vyftigtalle.

Premierliga Twee, beste bouler: Herschelle van Schalkwyk, 23 paaltjies in 48 bb.

Premierliga Twee, beste veelsydige speler: Nicolaas Scholtz, 162 lopies in sewe wedstryde; 23 paaltjies in 33 boulbeurte; vyf vangskote.

Premierliga, beste kolwer: JJ Smit, 415 lopies in 12 kolfbeurte (vyf keer nie uit nie); gemiddeld 59.29; een vyftigtal; hoogste 85* teen WHS Old Boys.

Premierliga, beste bouler: Karl Birkenstock, 23 paaltjies vir 3016 lopies in 62 boulbeurte; 5.08 per boulbeurt; beste 8/15 teen United.

Premierliga, beste veelsydige speler: Karl Birkenstock, 13 wedstryde, 23 paaltjies in 62 boulbeurte; 207 lopies; sewe vangskote.

Premierliga, beste veldwerker: JJ Smit.

Alle ligas, beste veldwerker: Tiaan Louw.

Alle ligas, meeste wydlopers (“spraygun award”): Dewald Nell.

Alle ligas, Jacques Fryer “fielding excellence” toekenning: Michael Thom.

Alle ligas, meeste nulletjies: Nick Mansino.

Beste ontluikende speler (Hannes van der Merwe wisseltrofee): Tiaan van der Merwe.

Beste junior speler (skoolseun): Tiaan van der Merwe.

Beste vordering (alle ligas): Wayne Volker.

Beste toewyding (alle ligas): Nick Mansino.

Spelers se speler van die jaar: Stefan Short.

Sportman van die jaar: Bernard Scholtz.