Moeilike VSA en Oman wag vir Eagles

Krieket
Die Namibiese toerspan sal bitter graag 'n gesonde punte-oes uit die komende toer wil haal.
Tielman Van Lill
Die Richelieu Eagles se komende toer na Oman sal ‘n groot rol in hul welslae in internasionale eendagkrieket (ODI’s) vir 2025 speel.

Die Namibiërs se eerste verpligting vir die nuwe jaar in die Internasionale Krieketraad (ICC) se Krieketwêreldbeker Liga 2-reeks (2024-2027) begin komende Saterdag in ‘n driehoekige mini-reeks teen Oman en die VSA in Al Amerat.

Die Namibiërs sal graag 2024 se middelmatige uitslae wil vergeet. Hulle het in Februarie 2024 goed in Kirtipur begin deur drie van hul ODI’s teen Nepal en Nederland te wen.

Maar in Julie 2024 in Dundee, Skotland, kon die Eagles slegs een uit vier ODI’s teen Oman wen, terwyl Skotland op hul tuisveld gefloreer het.

In September 2024 het die VSA en die Verenigde Arabiese Emirate in Windhoek ‘n draai gemaak. Die kat was opnuut in die duiwehok en die Eagles kon net een sege (teen die Emirate) bewerkstellig.

Hul uitslae sover laat die Namibiërs met slegs vyf seges uit die twaalf ODI’s wat hulle gespeel het. ‘n Wenpersentasie van 41.66 persent teen hierdie portuurgroep is nie goed genoeg indien die Eagles vir die 2027 Wêreldbeker in Windhoek, Suid-Afrika en Zimbabwe wil kwalifiseer nie.



Fokus op kolwers

Die toerspan sal sonder die dienste van die aanvangskolwer, Michael van Lingen, wees wat die aandag op sy plaasvervangers sal plaas.

In die huidige CWCL2-reeks is Van Lingen derde op die algehele kolwerslys met 445 lopies (12 kolfbeurte; gemiddeld 37.08), ná die VSA se Monank Patel (502 in elf kolfbeurte, gemiddeld 50.20) en Harsh Thaker van Kanada (489 in 12; gemiddeld 54.33).

Lo-han Louwrens het belofte in die afgelope vier eendagpremierligawedstryde van Krieket Namibië gewys. Hopelik kan hy sy klubvorm (245 lopies in drie kolfbeurte) teen die nuwe bal op die groter verhoog voortsit.

JJ Smit was selfs beter op dreef met die kolf op klubvlak vir Wanderers, met meer as 400 lopies in vier eendagwedstryde. Hy sal sekerlik hoop om ‘n soortgelyke peil op internasionale vlak te handhaaf.

Shaun Fouche het vier keer gaan kolf en slegs 121 behaal, terwyl Nicol Loftie-Eaton 104 in drie en Niko Davin 94 in vier wedstryde aangeteken het.

Die paaltjiewagter Zane Green se kolfwerk lyk nie op die peil wat hyself sou verwag nie, met 59 in vier kolfbeurte ietwat aan die beskeie kant. Malan Kruger (64 lopies in vier beurte) sal ook graag groter bydraes wil lewer.

Die Eagles-kaptein, Gerhard Erasmus, het nog nie in 2024 vir sy klub gekolf nie. Hy het wel vir die Gulf Giants in die International League T20 bestendig vertoon met 213 lopies in agt kolfbeurte (kolftempo 112.69; hoogste 50 van 32 balle), wat hom 13de op die reeks se algehele kolwerslys plaas.

Waar die huidige kolfpeil van JP Kotzé, Ruben Trumpelmann en Jan Frylinck staan, is ietwat van ‘n raaisel. Trumpelmann het wel vir United 73 lopies in drie Namibiese premierligawedstryde behaal.



Die boulers

Junior Kariata en Salomon Nuuyoma is wel nie in die Eagles-toerspan nie. Die CCD Tigers-duo het onderskeidelik tien en sewe paaltjies in 2025 se Namibiese eendag-premierliga platgetrek.

Die draaibalboulers Nicol Loftie-Eaton en PD Blignaut is die voorste nasionale boulers met onderskeidelik nege en sewe paaltjies in drie en vier wedstryde vir 2025.

Die gekose nasionale boulers het vanjaar nog betreklik min paaltjies vir hul klubs geneem. JC Balt het 6/101 in drie wedstryde, Dylan Leicher 5/67 in twee, Shaun Fouché 4/147 in vier, Jack Brassell 3/69 in drie, Bernard Scholtz 3/37 in een en Ben Shikongo 2/13 in een.

Ruben Trumpelmann het onlangs ná ‘n lang besering eers weer klubkrieket begin speel. Hy is Namibië se voorste naatbouler, maar het vanweë sy terugkeer van die krukkelys nog nie veel die afgelope seisoen geboul nie. Hopelik kom hy tydig op dreef in Oman.



ODI-ranglysposisies en CWCL 2 puntestand

Die VSA is tans 16de, Oman 17de en Namibië 19de op die ODI-ranglys.

Die Amerikaners is die voorlopers op die CWCL 2-punteleer met 16 punte ná 12 wedstryde, terwyl Oman vyfde is (14 ná 12) en Namibië sesde met tien punte ná 12 wedstryde.

Namibië is van 8 tot 16 Februarie in Al Amerat vir twee ODI’s elk teen die VSA en die gasheerspan. Wedstryd 1 is komende Saterdag teen die Amerikaners.

Gedurende Maart lê die volgende mini-reeks in Windhoek voor, met Kanada en Nederland as die besoekers.

[email protected]