Laubscher klap sweep vir Eagles-fiksheid

Krieket
Tielman Van Lill
Krieket Namibië het die aanstelling van Evert Laubscher as sy biokinetikus en gimnasium-fasiliteitsbestuurder aangekondig, wat die fiksheidsvlakke van alle nasionale spanne sal monitor.

Laubscher het amptelik op 1 November by Krieket Namibië aangesluit. Hy bring uitgebreide internasionale ervaring en gespesialiseerde kundigheid na die tafel wat Krieket Namibië se spelersontwikkeling en hoëprestasiedoelwitte sal ondersteun.

As 'n CSA Vlak 3-afrigter, geregistreerde biokinetikus en gesertifiseerde krag- en kondisioneringspesialis (CSCS), is Laubscher uniek gekwalifiseer om Krieket Namibië se programme vir beide die vroue- en manspanne te verbeter.

Laubscher het in sy werkloopbaan waardevolle internasionale ondervinding by die Bangladesj Nasionale Krieketakademie, asook met die nasionale krieketspanne van Uganda en Oman opgedoen.

Met meer as 'n dekade van betrokkenheid by die Titans se krieketopset in Suid-Afrika, het hy op Premierliga-klubvlak afgerig en gedien as 'n pyplynafrigter vir jeugspanne vanaf o.13 tot o.19. Hierbenewens het hy vir vier jaar ‘n private praktyk as biokinetikus bedryf.

Laubscher sê oor sy nuwe rol: “Ek was die afgelope paar jaar in die kleedkamers van opposisiespanne teen Namibië; dit het my die kans gebied om hul spelers in die hitte van die stryd waar te neem wanneer hul ware karakter ontbloot word.

“Ek het nog altyd stilweg hul dissipline, kameraadskap en veggees bewonder. Ek sien regtig uit daarna om deel van hierdie organisasie te wees en my rol in die bou van die spel in Namibië uit te leef.”

Krieket Namibië bou tans 'n gimnasium by die FNB Namibië Krieketveld, waar Laubscher ná voltooiing verantwoordelikheid as gimnasiumfasiliteitsbestuurder sal aanvaar. Sy rol strook met Krieket Namibië se strategiese fokus op spelerontwikkeling en sluit in toesig oor kondisionerings- en rehabilitasieprogramme, die leiding van die mediese span en die bestuur van die hoëprestasie-gimnasium.

Laubscher se aanstelling is 'n belangrike stap vorentoe vir Krieket Namibië. Sy uitgebreide ervaring en entoesiasme vir die rol sal van onskatbare waarde wees om die gesondheid, fiksheid en prestasie van Namibië se krieketspelers verder te versterk.

[email protected]