KN verkry topklas roller

Krieket
Nog twee plaaslike maatskappye het toegetree tot die bevordering van die opbou na die aanbieding van die Wêreldbeker.
Tielman Van Lill
Krieket Namibië (KN) is inderdaad in sy noppies met die nuwe vennootskap wat dié nasionale beheerliggam met Hardrock Earthworks vir ‘n gemotoriseerde roller bewerkstellig het.

Hardrock Earthworks het ruimhartig 'n top-gehalte JCB-roller vir gebruik by die FNB Namibië Krieketveld (FNB NCC) geborg.

Die borgskap is 'n deurslaggewende tree vorentoe ter voorbereiding van die stadion se kolfblaaie vir die Internasionale Krieketraad (ICC) se Wêreldbeker vir senior mans in 2027. Namibië sal gesamentlik met Suid-Afrika en Zimbabwe die vertoonstuk aanbied.

Johan Muller, hoofbeampte van KN, het gesê: “Die roller wat deur Hardrock Earthworks verskaf word, is noodsaaklik vir die voorbereiding van 'n wêreldklas veld.

“Ons moet verseker wees dat die speeloppervlak aan die hoë standaarde voldoen wat vir 'n internasionale byeenkoms van hierdie omvang vereis word. Krieket Namibië is opgewonde oor hierdie samewerking en die rol wat die masjinerie sal speel om kolfblaaie te lewer wat aan die ICC se standaarde voldoen. Dit sal Namibië se posisie as 'n wêreldklas gasheernasie versterk.

“Die borgskap deur Hardrock Earthworks beklemtoon opnuut die belangrikheid dat plaaslike besighede Namibië se krieket-ambisies ondersteun.

“Met die FNB NCC wat geskiedenis gaan maak as die land se eerste stadion wat Wêreldbeker-wedstryde sal aanbied, is dit belangrik om die hoogste gehalte speeltoestande te verseker.

“Die vennootskap is 'n belangrike mylpaal in ons voorbereiding om saam met Zimbabwe en Suid-Afrika die Wêreldbekertoernooi aan te bied.”

Jaco Scholtz, nasionale verkoopsbestuurder by Hardrock Earthworks, het sy entoesiasme vir die vennootskap uitgespreek: “Krieket is die tweede gewildste sport tere wêreld, en by Hardrock is ons passievol om dié sport te ondersteun.

“Namibiese krieket het aansienlike vordering die afgelope jare gemaak en met Namibië wat van die 2027 Wêreldbeker-wedstryde sal aanbied, is ons gretig om deel van die suksesverhaal te word.”



Nog ‘n plaaslike vennoot

Krieket Namibië het onlangs ook met trots aangekondig dat Plastic Packaging as die amptelike verskaffer van pype vir die FNB NCC-stadion bevestig is.

As ‘n maatskappy wat 100% in Namibiese besit is, is Plastic Packaging bekend vir sy verbintenis tot inisiatiewe wat die land se internasionale aansien bevorder.

Nico du Plessis, die besturende direkteur, het sy opgewondenheid uitgespreek. “Krieket Namibië word met deeglike sorg bestuur en hul handelsmerk groei vinnig en gesond. Hierdie vennootskap is in pas net ons visie om deel van Namibiese suksesverhale te wees.”

[email protected]