Indië se geluk ná 13 jaar ten koste van die Proteas

Krieket
Met deurslaggewende, dramatiese keerpunte het die Indiese span een vir een die Suid-Afrikaners se greep op hul eerste WB-trofee losgewring.
Tielman Van Lill
Indië is die nuwe T20-Wêreldbekerkampioen nadat sy span Saterdagaand Suid-Afrika se Proteas in Bridgetown, Barbados, op spannende wyse geklop het.

Met kaptein Rohit Sharma en die onvergelyklike kolwer Virat Kohli wat beide hul uittrede uit internasionale T20-krieket aangekondig het, het die einde van ‘n era vir Indië aangebreek – boonop met hul afrigter Rahul Dravid wat ook afskeid geneem het.

Met beide die kolf en bal het Indië die Wêreldbekerfinaal in die laaste vyf boulbeurte gewen – eers deur 58 lopies te slaan, voordat hulle die Suid-Afrikaners slegs 22 lopies toegelaat het terwyl hul boulers vier deurslaggewende paaltjies laat val het.

Die nuwe wêreldkampioen – die eerste wenner wat onoorwonne deur die toernooi seil – het die loot gewen, eerste gaan kolf en 176 vir sewe in 20 boulbeurte aangeteken, voordat hulle die Suid-Afrikaanse kolflys tot 169/8 in 20 bb beperk het om met sewe lopies te wen.

Die verskil tussen die twee spanne was Virat Kohli se 76 lopies van 59 balle (6x4, 2x6) en Jasprit Bumrah, wat as speler van die toernooi bekroon is.

Bumrah (2/16 in 4), Arshdeep Singh (2/20 in 4) en Hardik Pandya (3/20 in 3) het in 10 boulbeurte slegs 58 lopies afgestaan en sewe paaltjies geneem, om uit die tronk te ontsnap en die wedstryd te beklink.

Marco Jansen het ‘n nagmerrie as naatbouler ondervind en 49 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan.

Nadat Suid-Afrika ná nege boulbeurte op 71/3 wankelrig begin lyk het, het Heinrich Klaasen ingestap en die botsing met ‘n aanskoulike 52 lopies (27 b, 2x4, 5x6) in sy span se guns geswaai.

Aan die einde van die 15de was Suid-Afrika op 147/4 ver voor Indië wat in dieselfde stadium 118/4 gehad het.

Met Klaasen en David Miller voor die paaltjies en ses paaltjies staande, het die Proteas slegs 30 lopies van 30 aflewerings vir ‘n sege benodig.

Met Klaasen in ‘n verwoestende bui het dié taak na ‘n formaliteit begin lyk. Maar toe begin alles vir die Proteas skeefloop.

Bumrah boul sy tweede laaste boulbeurt in die 16de en staan slegs vier lopies af. Pandya staan in die 17de ook vier af en eis Klaasen se paaltjie met ‘n vangskoot deur paaltjiewagter Rishab Pant (151/5).

Bumrah boul sy laaste beurt in die 18de en laat val Marco Jansen se paaltjie (157/6).

Met 12 balle oor was die druk massief op Miller en Keshav Maharaj om 20 lopies aan te teken. Maharaj kan wel ‘n kolf vashou, terwyl Miller hul laaste volbloed kolwer was. Singh en Pandya moes in die laaste twee beurte bloot vir Maharaj voor die penne hou en staan gesamentlik net 12 lopies af.

Met 16 benodig van die laaste ses balle, raak Pandya van die gevaarman Miller ontslae te danke aan ‘n sensasionele vangskoot op die grenstou deur Suryakumar Yadav, wat ver moes hardloop en die bal binne die grenstou in die lug moes gooi en weer vang (161/7 na 19.1 bb).

Kagiso Rabada het een vier geslaan voor hy ná 19.5 agter die paaltjies gevang is (168/8)



Top-lopiemakers vir Indië (13x4, 7x6): Kohli (76), Axar Patel (47 van 31 b, 1x4, 4x6), Shivam Dube (27 van 16 b, 3x4, 1x6) en Rohit Sharma (9 van 5 b, 2x4).

Top-lopiemakers vir Suid-Afrika (13x4, 8x6): Klaasen (52), Quiton de Kock (39, 31 b, 4x4, 1x6), Tristan Stubbs (31, 21 b, 3x4, 1x6) en Miller (21, 17 b, 1x4, 1x6).

Top-boulers vir Indië: Pandya (3/20 in 3), Bumrah (2/18 in 4), Singh (2/20 in 4), Patel (1/49 in 4), Ravindra Jadeja (0/12 in 1) en Kuldeep Yadav (0/45 in 4).

Top-boulers vir Suid-Afrika: Nortjé (2/26 in 4), Maharaj (2/23 in 3), Rabada (1/36 in 4), Jansen (1/49 in 4), Aiden Markram (0/16 in 2) en Tabraiz Shamsi (0/26 in 3).

[email protected]