FNB laat sy merk op NCG-stadion

Krieket
Tielman Van Lill
Krieket Namibië is verheug om First National Bank Namibië as die eerste amptelike naamborg van sy nuwe FNB Namibia Cricket Ground (NCG) in Olympia aan te kondig.

Die aankondiging is Vrydagoggend by Rooster & Co in Klein-Windhoek gedoen tydens 'n korporatiewe ontbyt wat deur Krieket Namibië aangebied is.

Etlike gewaardeerde sakevennote van die nasionale beheerliggam het die geselligheid bygewoon.

Die ontbyt is 'n kwartaallikse tradisie en snoer elke drie maande Krieket Namibië se borge en vennote saam. Die samekoms bied 'n waardevolle platform vir netwerkvorming en samewerking binne die krieketgemeenskap.

Hierdie spesifieke ontbyt het egter uitgestaan toe Krieket Namibië se langtermynvennoot, FNB, sy verbintenis tot dié plaaslike sportkode herbevestig het. FNB in samewerking met Krieket Namibië het hul nuwe rol as die naamborg van die nasionale stadion aangekondig en die bank is voortaan ook die medevennoot van die Richelieu Eagles.

Die bou van die nuwe krieketstadion is nie net 'n opwindende ontwikkeling vir Krieket Namibië nie, maar vir die hele nasie. Namibië sal die Internasionale Krieketraad (ICC) se 2026 Krieketwêreldbeker vir o.19-spanne gesamentlik met Zimbabwe aanbied, asook die daaropvolgende ICC 2027 senior Krieketwêreldbeker saam met Krieket Suid-Afrika en Zimbabwe.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat Namibië enige ICC Wêreldbeker-wedstryde sal huisves.

Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, het gesê: “Ons is dankbaar en bevoorreg om FNB se volle ondersteuning te kry. Hulle was 'n deurlopende vennoot van ons ontwikkelingsprogramme, en dis ongelooflik om hul massiewe betrokkenheid nou by die stadion en manskrieket te sien.

“Ons is trots om met 'n handelsmerk soos FNB geassosieer te word. Dankie FNB dat julle ons in hierdie reis ondersteun, terwyl ons saam mylpale skep.

“FNB het reeds die kontrak onderteken, dus is hul borgskap onmiddellik van krag. Die FNB Namibia Cricket Ground is reg vir aksie in die toekoms.”

Die vennootskap tussen Krieket Namibië en FNB is ‘n driejaarkontrak wat tot net voor die 2027 ICC Wêreldbeker geldig is.

Hierdie samewerking beteken 'n groot mylpaal in Krieket Namibië se reis en beklemtoon die volgehoue steun van FNB vir die groei en ontwikkeling van krieket in Namibië.

Met die bou van die nuwe stadion aan die gang, lyk die toekoms van krieket in Namibië blinker as ooit. Die steun van FNB verseker dat Krieket Namibië goed voorbereid is om internasionale geleenthede te huisves en om 'n wêreldklasfasiliteit vir spelers en ondersteuners te bied.

[email protected]