Erasmus boul Eagles tot puik sege
Krieket
Ná die reënonderbreking het die Namibiërs genadeloos die druk op die Kanadese volgehou om met 12 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode te wen.
Die Richelieu Eagles het Saterdag by die Wanderers-veld in Windhoek hardnekkig teruggeveg om ondanks ‘n middelmatige kolftotaal hul eerste tuisoorwinning van die jaar in die ICC se Krieketwêreldbeker Liga Twee-reeks (2024-2026) te behaal.Die Namibiërs is vir 186 in 49 boulbeurte uitgeboul. Tydens die tweede kolfbeurt het ‘n reënbui en nat buiteveld die spel tydelik onderbreek en Kanada, wat op 91/3 ná 27.2 boulbeurte was, se wenteiken is tot 167 in 43 boulbeurte aangepas.
Namibië het die val van die munt reg voorspel en verkies om eerste te kolf. Die aanvangskolwer Niko Davin (33 van 43 balle, 4x4) het saam met JP Kotzé op nommer drie (48 van 71 b, 5x4) ‘n stewige 72-lopievennootskap bewerkstellig, nadat Zane Green in die eerste boulbeurt vir nul uitgevang is.
Gerhard Erasmus op nommer vier (17) is ongelukkig goedkoop b.v.p. betrap. Nommer vyf Nicol Loftie-Eaton (47 van 65 b, 3x4, 1x6) het hom vir ‘n onoorwonne beurt ingegrawe, maar moes toesien hoe ses kolwers vir 30 lopies (77 balle) in sy hardnekkige skof uitgehaal word. Malan Kruger (10), JJ Smit (2), Ruben Trumpelman (9), Jan-Izak de Villiers (3), Bernard Scholtz (5) en Tangeni Lungameni (1) het nie vir lank by Loftie-Eaton aangesluit nie.
Loftie-Eaton (wat as speler van die wedstryd aangewys is) en Kotzé het beide hul hoogste ODI-telling in die laaste ses maande aangeteken.
Kaleem Sana (4 paaltjies vir 33 lopies in 8 boulbeurte, ekonomie 4.12 per boulbeurt) en die linkerarm-draaibouler Shahid Ahmadzai (4/34 in 10, ekon. 3.4) was werklik uitstaande vir Kanada met die bal in die hand.
Kaptein Fantasties
Gerhard Erasmus (4/24 in 9, 1 leeg, ekon. 2.66) het ‘n briljante boulvertoning vir die Eagles gelewer en die beste boulsyfers van die dag behaal. Hy het slegs twee viere en een ses afgestaan en het van Kanada se topdrie kolwers ontslae geraak.
Erasmus se eerste twee slagoffers was die aanvangskolwers Navneet Dhaliwal (25) en Yuvraj Samra (53), wie se vennootskap van 79 die Noord-Amerikaners stewig in die saal geplaas het, asook nommer drie Pargat Singh (1).
Die Namibiese kaptein het ook die gevaarlike nommer sewe Saad Bin Zafar vir 13 geboul en vir Kaleem Sana (0) uitgehardloop.
Kanada het ineengestort vanaf 140/5 tot 154 almal uit.
Grenshoue: Namibië 16 (14x4, 2x6), Kanada 15 (12x4, 3x6).
Ter afsluiting van die driehoekige reeks, wat Nederland ook ingesluit het, is individuele toekennings soos volg oorhandig:
Bouler van die reeks: Bernard Scholtz (Namibië) – tien paaltjies (in vier wedstryde).
Kolwer van die reeks: Navneet Dhaliwal (Kanada) – 79 lopies (in twee wedstryde).
Speler van die reeks: Gerhard Erasmus (Namibië) – 152 runs (in vier wedstryde) en sewe paaltjies.
Superboulbeurt
Die Namibiërs het sover vanjaar agt ODI’s in die kompetisie gespeel waarvan hulle twee gewen het.
‘n Nuwe toevoegsel in die kompetisie blyk die gebruik van ‘n superboulbeurt te wees om ‘n wenner te bepaal indien ‘n wedstryd gelykop eindig. Dit was die geval verlede week toe Kanada teen die gasheerspan 167/8 in 39 op die telbord geplaas het. Namibië moes 175 lopies in 39 boulbeurte in die tweede beurt behaal, maar was tot 174 almal uit in 39 beurte beperk.
In die superbeurt (6 balle) kon die Eagles slegs drie lopies behaal. JJ Smit en Gerhard Erasmus is beide vir nul deur Kaleen Sana uitgehaal, terwyl Ruben Trumpelmann een lopie gekry het. Twee lopies is van ‘n bylopie en ‘n loslopie gekry.
In die superboulbeurt het Nicholas Kirton (1) en Pargat Singh (6) met sewe lopies vir Kanada die ODI beklink en gevolglik die twee ligapunte gegaps. JJ Smit het vir Namibië die boulwerk hanteer, maar hy het ‘n grenshou (4) aan Singh afgestaan.
T20’s teen Kanada
Die gasheerspan en Kanada takel mekaar van môre af in vyf internasionale T20-wedstryde by die FNB Namibia Cricket Ground (NCG) in Olympia.
Die T20I-reeks se wedstryde vandeesweek word Dinsdag, Woensdag, Vrydag, Saterdag en Sondag gespeel, met spel wat daagliks geskeduleer is om 14:00 te begin.
Die Eagles spelers-groep (17 spelers) vir die vyf T20-wedstryde: Gerhard Erasmus (kaptein), Zane Green (paaltjiewagter), Niko Davin, Nicol Loftie-Eaton, Ben Shikongo, Jan Frylinck, Ruben Trumpelmann, JJ Smit, Malan Kruger, Tangeni Lungameni, Jack Brassell, Bernard Scholtz, JP Kotzé, Jan-Izak de Villiers, Dylan Leicher, Handre Klazinga, Lo-han Louwrens.
Wêreldbeker Liga Twee
Ondanks Saterdag se bemoedigende uitslag bly die Eagles steeds onder druk in die reeks, waarin hulle 13 van hul eerste 19 wedstryde verloor het. Hul oorblywende afsprake in die reeks:
Toernooi 14, Augustus 2025: Kanada (gasheer) v Namibië vs Skotland.
Toernooi 17, April 2026: Namibië (gasheer) Oman vs Scotland.
Toernooi 18, Mei 2026: VSA (gasheer) vs Namibië vs Verenigde Arabiese Emirate.
Toernooi 21, Augustus 2026: Nederland (gasheer) vs Namibië vs Nepal.
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article