Eagles-wa moet teen Oman deur die drif glip

Krieket
Tielman Van Lill
Indien die Richelieu Eagles vandag vir Oman opnuut in hul tweede internasionale eendagwedstryd (ODI) by die Forfarshire-krieketklub in Dundee, Skotland, klop, sal Namibië van minstens vier broodnodige ligapunte vir die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks verseker wees.

‘n Tweede oorwinning teen Oman sal die Eagles op tien punte en in die eerste posisie op die puntelys plaas. Al wen Skotland komende Vrydag die Eagles, sal hulle die tweede posisie met nege punte inneem, terwyl Kanada vir nou vanaf eerste tot derde (agt punte) verbygesteek sal word.

Namibië (234 vir vier paaltjies in 47.5 boulbeurte) het laas Donderdag vir Oman (233/8 in 50) gemaklik met ses paaltjies geklop. Toe het die Eagles se topvyf kolwers deur die bank bestendige bydraes gelewer.

Jan Frylinck het hom ingegrawe vir 73 lopies, terwyl Michael van Lingen (30), Lo-han Louwrens (29), Gerhard Erasmus (36) en JJ Smit (44 nie uit nie van 37 aflewerings) ook bygedra het.

Ben Shikongo het briljant gereageer om Ruben Trumpelmann se skoene vol te staan. Hy was op sy beste met vier paaltjies vir 29 in nege boulbeurte.

Hoewel Skotland Saterdag hul eerste ODI teen Namibië met 47 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode gewen het, was dié metode nie werklik nodig nie. Namibië was vir 235/9 in 44 beperk nadat hulle 283 in 44 beurte moes behaal.

Die Skotte, ingestuur om eerste te gaan kolf, het ‘n massiewe 290/9 in 50 bb op die telbord geplaas. Die gasheerspan se telling was boonop met 26 ekstras geseën wat nege wydlopers en een foutbal insluit.

George Munsey (91 van 62 balle) het die Eagles-boulers teen ‘n treftempo van 146.77 persent frustreer, terwyl Richie Berrington (79 van 81 b) ook ‘n doring in die vlees was. Brandon McMullen (37 van 53 b) en die stertkantkolwer, Safyaan Sharif op nommer tien met 23 van 33, het die laaste lopies aangeteken.

Dié vier Skotse kolwers was gesamentlik vir 230 van hul span se totaal verantwoordelik.

Bernard Scholtz (3/23 in 10, 2 leeg) en Tangeni Lungameni (2/47 in 10, 1 leeg) het die Skotte se lopietempo teen 3.5 per boulbeurt goed in toom gehou. Maar Shikongo (2/74 in 10, 1 leeg) en Jack Brassell (0/57 in 7) was teen bykans agt per boulbeurt senutergend duur. Erasmus (2/47 in 8, 1 leeg) en Frylinck (0/26 in 5) was teen 5.61 betroubaar en akkuraat.

Die vraag is hoekom het Erasmus en Frylinck slegs 13 beurte geboul? ‘n Paar minder duur boulbeurte sou die druk op die Eagles-kolwers verminder het.

Net drie van Namibië se topvyf kolwers kon aan die gang kom. Erasmus (63 van 51 b) het vinnig gevorder, maar Louwrens is vir ‘n nulletjie uit en Van Lingen (60 van 85 b) en Frylinck (34 van 39 b) se vryheid is ook aan bande gelê.

Michael Leask se draaiboulwerk (4/40 in 9) het ook die Eagles se ondergang bewerkstellig. Mark Watt (2/62 in 10) en Jasper Davidson (1/40 in 6) was die enigste Skotse boulers wat meer as ses per boulbeurt afgestaan het.



Nuwe ODI-debuutrekord

Intussen het Skotland (95/2 in 17.2) Maandag vir Oman (91 almal uit in 21.4) met agt paaltjies verniel waar Charlie Cassell met sy ODI-debuut Kagiso Rabada se ODI-boulrekord van 2015 verbeter het.

Cassell (7 paaltjies vir 21 in 5.4, 1 leeg) het die naatbouler, Chris Sole, vervang wat weens persoonlike redes nie beskikbaar was nie.

Rabada het 6/16 in 8 (3 leeg) geneem in sy ODI-debuut vir die Proteas op 10 Julie 2015 teen Bangladesj in Mirpur.



Mylpaal

Skotland se kaptein, Richie Berrington, het teen Namibië in sy 118de ODI gespeel en die 3 000-lopiekerf tydens sy kolfbeurt van 67 oortref.

[email protected]