Eagles soek ligpunte in verlore reeks teen Punjab

Krieket
Tielman Van Lill
Die Indiese toerspan van die Punjab-staat het seker gemaak dat hy sy reeks van vyf eendagkrieketwedstryde teen Namibië wen, deurdat hy in Sondag se derde wedstryd die reekstelling 3-0 gemaak het.

Punjab (149 sonder verlies van ‘n paaltjie) het 85 aflewerings van 14.1 boulbeurte nodig gehad om die Richelieu Eagles met tien paaltjies te oordonder.

Namibië se senior manskrieketspan, met drie van vanjaar se junior Eagles wat in die o.19 Wêreldbeker gespeel het, het eerste gekolf nadat kaptein Malan Kruger die loot gewen het. Die Eagles was vir 147 lopies in 39.3 boulbeurte uitgeboul.

Michael van Lingen het die hoogste telling behaal (34 lopies van 45 balle, 4x4) gevolg deur JP Kotzé (16 van 27, 2x4), Kruger (15 van 26, 1x4), Gerhard Erasmus (14 van 20, 2x4) en Junior Kariata (11* van 28 balle).

Ben Shikongo (53 lopies in 5 boulbeurte), Kariata (40 in 4), Hanro Badenhorst (32 in 3.1) en Shaun Fouché (19 in 2) kon nie die aanvangspaar van Punjab ontstig nie.

Simran Singh (88 nie uit nie van 49 balle, agt viere, ses sesse) en Anmolpreet Singh (53* van 36 balle, 6x4 3x6) het ongestoord 23 grenshoue (14x4, 9x6) na die grenstou aangevuur.

Mayank Markande met 3/21 in 7.3 was opnuut die keur van Punjab se boulaanval. Kaul Siddharth en Sanvil Singh het elk twee laat val, terwyl Shukla Aradhya, Ramandeep Singh en Jassinder Singh elk een slagoffer bewerkstellig het.

Die vierde eendagwedstryd word vandag by Wanderers gespeel, voor die vyfde en laaste Woensdag.