Eagles opnuut ontnugter

Krieket
DIe Emirate het die T20I-reeks op grond van 'n beter netto lopietempo voor die VSA weggeraap.
Tielman Van Lill
Namibië se vierde en laaste internasionale T20-wedstryd van die driehoekige Castle Lite-minireeks teen die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en die Verenigde State van Amerika (VSA) is Saterdag by Wanderers in die hoofstad gespeel waar rooi ligte opnuut vir die tuisspan geflits het.

Die Richelieu Eagles (120 vir 9 paaltjies in 20 boulbeurte) is binne 15.1 boulbeurte deur die VSA (124/4) met ses paaltjies geklop.

Die feit dat Namibië die loot gewen het en eerste gaan kolf het, het geen verskil aan die Eagles se kolfvertoning gemaak nie. Die aanvangskolwers JP Kotzé (29 van 20 balle, 6x4) en Jan Frylinck (21 van 12 b, 3x4, 1x6) het flink begin in hul vennootskap van 34 in 3.2 boulbeurte, maar nadat die duo uitgehaal is, het die lopies totaal en al opgedroog.

In kolfvolgorde is Alexander Volschenk (0), Gerhard Erasmus (2), JJ Smit (0) en Zane Green (6) vir slegs ’n gesamentlike agt lopies laat stap. In daardie stadium was Namibië teen die kryttoue op 69/6 in 10.3 boulbeurte.

As dit nie vir nommer sewe Shaun Fouché (40 nie uit nie van 43 b, 5x4) se vasberade pragbeurt was nie, sou die Eagles se ontstoke ondersteuners nog meer teleurgesteld en mismoedig huiswaarts gekeer het.

Die VSA se 33-jarige draaibouler Milind Kumer (5/16), wat in Delhi gebore is, is as speler van die wedstryd aangewys. Sy kollegas Harmeet Singh (2), Jasdeep Singh (1) en Nitish Kumar (1) ht ook op die regte oomblikke bygedra.

Namibië het 15 grenshoue vir 62 lopies bewerkstellig (14x4, 1x6), terwyl die VSA met 13 vir 60 lopies (9x4, 4x6) geantwoord het.

Die VSA-kolwers was nie daarop ingestel om elke bal oor die grenstou te probeer moker nie. Hul 56 enkellopies wys dat die besoekers met verstandige oordeel die wedstryd benader het.

Vir die VSA het aanvangskolwers Andries Gous (37 van 19 b, 4x4, 2x6), enSaiteja Mukkamalla (22 van 24 b, 2x4, 1x6), Milind Kumar op vyf (18* van 15 b, 1x4), nommer drie Harmeet Singh (16 van 12 b, 1x4, 1x6) en nommer vier Nitish Kumar (12 van 12 b) ‘n stewige fondasie vir die VSA se sege gelê.

Die Eagles se naatboulers kon nie ‘n paaltjie bewerkstellig nie. Die draaiboulers Erasmus (3/23 in 4 teen 5.75) en Bernard Scholtz (1/24 in 1 teen 6) het wel briljant geboul.

Die Eagles het elk van hul vier T20I-kragmetings teen die VAE en die VSA verloor. Tydens die voorafgaande internasionale eendagreeks het Namibië een uit vier botsings gewen.

Nadat elkeen drie uit vier in die T20I-reeks gewen het, het die Emirate op grond van ‘n beter netto lopietempo (1.07 teen 0.84) die reekssege voor die VSA weggeraap.

Volschenk, wat vroeër vanjaar die Walvis Bay Salt Eagles se kaptein by die o.19 Wêreldbeker was, het Saterdag sy T20I-debuur vir Namibië gemaak. Benewens sy nulletjie met die kolf het hy twee vangskote van Gerhard Erasmus se boulwerk benut om van Harmeet Singh en Milind Kumar ontslae te raak.

[email protected]