Eagles brei in tuisreeks vir Skotland en Oman

Krieket
Die T20-Wêreldbeker is iets van die verlede, maar die horison van die Wêreldbeker in eendagkrieket vereis nou die Eagles se aandag.
Tielman Van Lill
Die besoekende senior manskrieketspan van die Punjab-krieketvereniging in Indië, sal van môre tot volgende Woensdag teen die Richelieu Eagles in Windhoek kragte meet.

Die nuutste Castle Lite-reeks bied vyf opwindende eendagwedstryde, wat almal by Wanderers in Pionierspark gespeel sal word.

Die hoogtepunte sal waarskynlik Vrydag en Sondag wees wanneer meer van die Eagles se getroue ondersteuners na verwagting hul pad na Wanderers sal vind.

Die Eagles is pas terug van die Wes-Indiese eilande, waar hulle in Groep B by die T20-Wêreldbeker teen Australië, Engeland, Oman en Skotland arm gedruk het.

Indië het natuurlik die T20-Wêreldbekerfinaal teen Suid-Afrika se Proteas beklink. Indië is uiteraard een van krieket se heiligdomme en die staat Punjab, met 27 miljoen inwoners, bevat twee internasionale krieketstadions, naamlik Mohali en Mullanpur.



Die doelwit

Namibië se volgende internasionale verpligting in die ICC se Wêreldbeker Liga 2-reeks (2023–2027) se driehoekige mini-toernooi van internasionale eendagkrieket begin van 18 tot 26 Julie in Dundee, Skotland.

Gerhard Erasmus en sy troepe sal dus die oefenlopie teen Punjab aanwend as skaafwerk en aanpassing by die langer formaat, voor hul vier internasionale eendagwedstryde teen Oman en die gasheerspan Skotland.

Die Eagles het ‘n appeltjie met Skotland te skil wat hulle by die T20-Wêreldbeker geklop het, terwyl Oman eweneens vir hul nederlae teen Namibië en Skotland by dieselfde toernooi wil wraak neem.

Die Eagles-spelersgroep: Malan Kruger, Lo-han Louwrens, Michael van Lingen, Gerhard Erasmus (kaptein), JC Balt, JP Kotzé, Dylan Leicher, PD Blignaut, Junior Kariata, Ben Shikongo, Tangeni Lungameni, Ruben Trumpelmann, Jan Frylinck, JJ Smit, Simon Shikongo, Zacheo Janse van Vuuren, Shaun Fouché, Max Heingo, Zane Green, Alexander Volschenk.



Vir die toeskouer

Lekker vet pryse kan deur toeskouers tydens Vrydag en Sondag se 50-beurtwedstryde gewen word.

• Koop twee Castle Lite Draughts vir slegs N$40, skryf in vir die gelukstrekking en staan ‘n kans om ‘n Castle Lite-koelboks te wen.

• Wys jou krieketvaardighede en staan die kans om bier ter waarde van N$1 000 te wen. Benut ‘n vangskoot van ‘n ses oor die grenstou en jy is die gelukkige wenner van ‘n koopbewys van Castle Lite en Wanderers.

Wenners sal voor die einde van die wedstryde aangekondig word. Bepalings en voorwaardes geld, terwyl voorraad hou.

Al die wedstryde in die Castle Lite-reeks begin om 09:30 by Wanderers in Pionierspark op 3, 5, 7, 9 en 10 Julie.

[email protected]