CCD Tigers en Wanderers eerste uit die blokke

Krieket
Die vier klubs speel net 'n enkele rondte in die T20 premierliga en die eindstryd sal reeds op 2 November afgehandel word.
Tielman Van Lill
Niko Davin van Wanderers en Ryan Moffett van CCD Tigers is Saterdag as die eerste spelers van die wedstryd aangewys in die openingsrondte van Krieket Namibië se T20-premierliga vir die 2024-2025-seisoen.

Die vorige seisoen se T20-kampioenspan, Afri-Trac Group WHS Old Boys, het hom in Pionierspark teen sy vernaamste uitdager APS Samsung Wanderers vasgeloop. Old Boys is vir 102 almal uitgeboul in 18.3 boulbeurte nadat Wanderers 177/5 opgestapel het.

Davin se pragbeurt van 57 lopies (34 balle, 9x4, 1x6) het gewys hy is op dreef indien die Richelieu Eagles op sy knoppie sou druk.

In die tweede helfte van die kolfbeurt het Nyashadzaishe Nyasha (32 van 16 b, 1x4, 2x6) teen ‘n koers van 200 persent sy lopies gejaag, terwyl Lo-han Louwrens (20* van 20 b) en kaptein Michau du Preez (2* van 2 b) as kolwers nommer vyf en sewe die diepte in Wanderers se geldere uitgestal het.

Old Boys se jong draaibouler Francois du Plessis (2/39 in 4) het die gesogte paaltjies van Davin en JJ Smit (21 van 13 b, 2x4, 1x6) geëis, terwyl Tangeni Lungameni (1/27 in 4) van Nyasha ontslae geraak het.

Henry Olivier (1/28 in 4) het JC Balt vir 13 geboul (22 b, 1x4) net voordat die openingskolwer sy visier behoorlik kon instel om meer skade aan te rig. Jandre de Jager het ook ‘n deurbraak gemaak deur Wanderers se nommer drie Karl Birkenstock uit te hardloop (14 van 12 balle, 2x4).

Old Boys se voorste lopiemakers was die einste Henry Olivier (28 van 27 b, 2x4, 1x6) en Grant Henry (27 van 22 b, 3x4).

Die ervare linkerarm-draaier Bernard Scholtz (4/8 in 4) was verwoestend vir die gasheerspan.

Morkel Malan (11), Zacheo Janse van Vuuren (2), Zhivago Groenewald (0) en Jandré de Jager (0) is al vier goedkoop deur Scholtz laat terugstap.

PD Blignaut (2/24 in 3.3) het flink met die paaltjies van Adriaan Coetzee (6) en Lungameni (6) vir Wanderers se sege met 75 lopies bygedra.

Sonder hul nasionale spelers soos Gerhard Erasmus en JP Kotzé wat hopelik binnekort weer kan aansluit, het WHS Old Boys beduidend minder ervaring in die veld gestoot om die kragtige Wanderers-elftal onder druk te kan plaas en die ligbloues se jonger geslag moes dus maar sink of swem.

Boonop het Zane Green se “oorplasing” om United te versterk, ook ‘n leemte in Old Boys se mondering gelaat.



CCD TIGERS (154/3 in 18.3) KLOP UNITED (153/8 in 20)

Trustco United 1 en CCD Tigers 1 was die namiddag by die Wanderersveld teen mekaar in aksie, waar die Tigers hul eerste vier ligapunte opgeraap het.

Die Tigers, wat tweede gekolf het, se 7 paaltjie-oorwinning is deur aanvallende kolfwerk van Moffett (70 van 38 b, 9x4, 2x6) en Joshuan Julius (53* nie uit nie van 52 b, 5x4, 1x6) aangevoer.

Handré Klazinga (2/29 in 4) het vir United die paaltjies van Simon Shikongo (13) en Helao Ya France (8) geneem en Erik Lintvelt (1/18 in 4) het Moffett se tol geëis.

Vir United het die jong aanvangskolwer Lintvelt (52 van 45 b, 6x4, 1x6) met Zane Green (23 van 21 b, 4x4) as sy vennoot die telling flink tot 48/1 ná 6.5 boulbeurte gevoer. Die vinnige verlies van Henry Hayes (0) en Tawanda Sithole (1) het die momentum laat swaai, voordat Steph Fourie (31 van 21 b, 3x4, 1x6) en nommer ses Klazinga (32* van 15 b, 4x4, 1x6) die totaal weer bietjie lyf gegee het.

Mauritius Ngupita (2/25 in 4), Salomon Nuuyoma (2/37 in 4) en Simon Shikongo (2/25 in 4) was suksesvol vir Tigers met die bal in die hand.



VOLGENDE

Die wedstrydbepalings vir komende Saterdag, by Wanderers: Wanderers tn CCD Tigers (oggend); WHS Old Boys tn United (namiddag).

In net ‘n enkele rondte tussen die vier klubs word die T20-premierliga bykans in Oktober afgehandel, met die eindstryd wat vir 2 November geskeduleer is.

[email protected]