Beleërde Eagles verloor stoom

Krieket
Die Eagles het net een uit vier wedstryde van hul pas afgelope toer in Skotland gewen.
Tielman Van Lill
Die Namibiese krieketspan was Vrydag met die rug teen die muur toe hy teen die gasheerspan Skotland vir sy laaste internasionale eendagwedstryd van die ICC se 2024-2027 Wêreldbeker Liga Twee-reeks in Dundee op die veld gestap het.

Dit het gekom nadat Oman (197 vir 6 paaltjies in 49.1 boulbeurte) twee dae tevore teen alle verwagting in die Richelieu Eagles (196/9 in 50) met vier paaltjies in hul tweede ontmoeting geklop het. Dié uitslag was ‘n ontnugtering nadat Namibië (234/4 in 47.5) vir Oman (233/8 in 50) in hul eerste ontmoeting met ses paaltjies ondergekry het.

Die Namibiërs verloor toe Vrydag ook hul laaste ODI teen Skotland met 138 lopies.

‘n Honderdtal in sy ODI-debuut vir Michael English (107 van 122 b, 9x4, 2x6), saam met Richie Berrington (89 van 81 b, 11x4, 1x6) en Chris Greaves (31 nie uit nie van 24 b, 2x4, 1x6) het gesorg dat Skotland stewig op 301/6 in 50 geanker was voordat Namibië gaan kolf het.

Namibië (163 almal uit in 40.1) het min antwoorde vir die Skotse boulaanval gehad. Die kaptein en staatmaker-kolwer Gerhard Erasmus (53 van 73 b, 6x4) het sy 15de ODI-vyftigtal behaal, terwyl Zane Green (28 van 35 b, 4x4) en Malan Kruger (27 van 42 b, 4x4) die beste van die res van die Eagles-kolwers gevaar het.

Gavin Main en Brad Currie het elkeen drie paaltjies vir Skotland laat val, terwyl Brandon McMullen en Michael Leask twee elk bewerkstellig het. Shaun Fouché was die keur van Namibië se boulaanval met 3/60 in 10.

Skotland se totaal het 142 lopies van 33 grenshoue bevat (28x4, 5x6) en Namibië 72 lopies (18x4).



Teen Oman

Die Eagles se topvyf kolwers altesaam 212 lopies van die spantotaal van 234 in hul eerste ODI bygedra. Woensdag was dit maar 137. As dit nie vir Malan Kruger op nommer vyf se puik 73 (90 balle, 6x4) was nie, was die kalf nog dieper in die put.

Behalwe Kruger was aanvangskolwer Michael van Lingen (40 van 55 b, 7x4) en nommer ses JJ Smit (41 van 75 b, 2x4, 1x6) die enigstes wat betekenisvolle goeie bydraes gelewer het.

Die res van die topvyf is vir 12, 8 en 4 uitgehaal. JP Kotzé op ses was beslis daar om die Eagles se kolflys te verleng, maar is ongelukkig vir vyf uitgevang.

Boonop het Namibië opnuut 19 ekstras afgestaan wat nege wydlopers, ses bylopies en vier loslopies insluit. Hierteenoor het ‘n gedissiplineerde Oman slegs agt ekstras afgestaan (2 bylopies, 1 foutbal, 5 wydlopers) wat ‘n verskil van 11 lopies meer beteken wat die Eagles op een of ander manier moes verdedig.

Die Eagles-boulers was glad nie duur nie. Inteendeel, Jack Brassell was teen 4.9 lopies per boulbeurt die duurste, maar oor tien boulbeurte steeds uiters ekonomies. Tangeni Lungameni teen drie per boulbeurt was vrek suinig in sy tien boulbeurte.

Brassell (2 paaltjies vir 49 in 10), Lungameni (1/30 in 10, 1 leeg) en Ben Shikongo (1/39 in 8) het paaltjies vir Namibië geneem. Oman het egter sewe leë boulbeurte afgestuur, terwyl Namibië twee bewerkstellig het.

In vergelyking met die Eagles se 137 lopies wat die topvyf kolwers bygedra het, het Oman se topvyf net 101 behaal. Hul nommer drie en kaptein Aqib Ilyas (68 van 129 b, 5x4, 1x6) was die enigste topkolwer van Oman wat op peil was. Dit is egter Khalid Kail op ses (43 van 55 b, 4x4, 1x6) en Shoaib Khan op sewe (26* van 38 b, 4x4) wat die wedstryd vir Oman gewen het.

Grenshoue: Oman 18x4, 1x6, Namibië 18x4, 1x6.

Al was die Eagles-boulers ekonomies en het hulle Oman ná 21.2 bb op 94/4 gehad, kon hulle vanaf die 23ste boulbeurt nie weer ‘n enkele paaltjie laat val nie.

Een kopseer van die afgelope toer was dat Namibië in vier kragmetings 98 ekstras teen Oman en Skotland afgestaan het, teenoor net 44 van hul teenstanders.

[email protected]