Orapa die beginpunt vir Statebondspele

Rolbal
Tielman Van Lill
Nadat die 2026 Statebondspele in die weegskaal was totdat dit onlangs deur die Skotse regering en die stad Glasgow gered is, sal die Namibiese Rolbalvereniging se nasionale senior vroue- en manspanne vanoggend met hernude ywer die Afrika Statekampioenskap in Orapa, Botswana, pak.

Die kampioenskap is van meer as net kontinentale belang. Vir spelers van Afrika is dit hul eerste kompetisie waaraan hulle deelneem wat deel vorm van die Wêreldrolbalreeks wat alle internasionale spelers op sy wêreldranglys sal opweeg.

Die 2026 Statebondspele sou aanvanklik deur die Australiese staat Victoria aangebied gewees het, maar weens stygende koste en die gebrek aan geld het Victoria onttrek. Selfs die Australiese regering het nie vir die uitdaging kans gesien nie.

Maleisië en Singapoer is ook deur die Internasionale Statebondvereniging genader om die skouspel aan te bied, maar beide het nie kans gesien nie.

Die 2026 Spele sal met minder sportkodes en atlete ‘n veel kleiner as gebruiklike samekoms vir die wêreld se elite atlete wees. Glasgow beloof egter dat die Spele steeds ‘n vertoonstuk sal wees om die stad opnuut aan die wêreld bekend te stel.

Die twee Namibiese rolbalspanne bestaan elk uit vyf spelers, met ‘n bestuurder vir elke span. Die spanne het Vrydagnamiddag by die Eros-rolbalklub in Windhoek vir ‘n amptelike afskeid bymekaar gekom.

‘n Mengsel van gesoute rolbalspelers en twee relatief onervare lede op internasionale vlak sal Namibië se aanslag in die buurland se myndorp, Orapa, aanvoer. Waylon Wentzel en Marinda Bezuidenhout sal vanoggend amptelik hul eerste nasionale kleure ontvang voor hulle op die rolbalbaan stap.

Die geselskap het Saterdagoggend vroeg per pad vanaf Windhoek vertrek. Die vrouespanlede is Diana Viljoen (kaptein), Marietjie van den Bergh, Elzaan de Vries, Bianca Lewis, Marinda Bezuidenhout en Elna Esterhuizen (spanbestuurder).

Die mans is Graham Snyman (kaptein), Kat Steenkamp, Waylon Wentzel, Schalk van Wyk, Julian Viljoen en André Campbell (spanbestuurder).

Ses nasies sou in Orapa in aksie gewees het, maar ongelukkig het Zambië op die nippertjie onttrek. Kenia, Namibië, Suid-Afrika, Zimbabwe en die gasheerspan sal mekaar tot 26 September pak.

Anjuleen Viljoen, president van die Namibiese Rolbalvereniging, het die twee debutant-spanlede gelukgewens. “Ons missie is om die kode so veel as moontlik te ontwikkel en ek glo dat beide oor die talent beskik om Namibië met onderskeiding te verteenwoordig.

“Dis altyd lekker om nuwe talent in die span te hê. Die spanne is goed voorberei om goud huis toe te bring. Ek wens die spanne die beste toe.”

Buco Windhoek het die spanne se oefenhemde geborg.

[email protected]