Hoogste eer in die land wink

Rolbal
Die Namibiese Rolbalvereniging se agtdaagse nasionale kampioenskap het die konsentrasie van die topspelers behoorlik beproef.
Tielman Van Lill
Die langverwagte eindronde van die Namibiese Nasionale rolbalkampioenskappe van die Namibiese Rolbalvereniging vind môre by die bane van Eros- en Windhoek-rolbalklub in die hoofstad plaas.

Mans- en vrouelede van sewe klubs insluitend Walvisbaai, Swakopmund, Tsumeb en vier van Windhoek het sedert verlede Saterdag sake in elke dissipline van die sport begin uitspook.

Die vroue- en manspare is op die eerste dag van die elite-toernooi onderskeidelik by die Windhoek- en Eros-bane gespeel. Tydens die kompetisie wissel die vroue en mans elke dag venues af.

In Saterdag se eindstryde word die beste vir laaste gehou, met die kwalifiserende finaliste soos volg:

Vroue enkelspel: Marietjie van der Bergh (verdedigende kampioen) teen Michelle Vermeulen.

Vroue parespel: Marietjie van der Bergh en Petro Breedt teen Truda Meadon en Maureen Sadler.

Vroue driespel: Marietjie van der Bergh, Susan Venter en Petro Breedt teen Anjuleen Viljoen, Michelle Vermeulen en Amanda Steenkamp.

Vroue vierspel: Eers vandag beslis.

Mans enkelspel: Christo “Kat” Steenkamp (verdedigende kampioen) teen Julian Viljoen.

Mans parespel: Schalk van Wyk en Claude Thornburn teen Waylon Wentzel en Freddie Fouché.

Mans driespel: Colin Peake, Christo de Beer en Dirk Breedt teen Schalk van Wyk, Julian Viljoen en Gordon Damster.

Mans vierspel: Eers vandag beslis.

[email protected]