Glasgow ‘n moontlikheid vir rolbalspanne

Rolbal
Tielman Van Lill
Namibië se rolbalspanne het die afgelope week algeheel tweede by die Afrika Statekampioenskap in Orapa, Botswana, geëindig en het danksy hierdie silwermedalje klaarblyklik hul kwalifisering vir die volgende Statebondspele in Glasgow bespreek.

Die bevestiging hiervan lê egter nou op raadsvlak. Indien die Internasionale Statebondvereniging wel besluit om rolbal by sy program vir die 2026 Spele in te sluit, sal Namibië se senior vroue- én manspanne hul land daar kan verteenwoordig.

Die vroue en mans het altesaam nege medaljes opgeraap, met een silwer vir die vrouespan, terwyl die mans met ‘n algehele derde plek brons verseker het. Marietjie van den Bergh en Kat Steenkamp het beide silwer in die enkelspel vir vroue en mans opgeraap.

By die parespel het Marietjie van den Bergh en Bianca Lewis met silwer briljant gevaar, met ‘n brons vir Graham Snyman en Julian Viljoen.

Namibië se vroue het vierde in die driespel geëindig, maar Steenkamp, Schalk van Wyk en Waylon Wentzel het met brons in dié afdeling weggestap.

In die vierspel het Namibië opnuut gemengde welslae met een bronsmedalje behaal. Lewis, Elzaan de Vries, Diana Viljoen en Marinda Bezuidenhout het derde geëindig. Ongelukkig kon Snyman, Viljoen, Wentzel en Van Wyk nie dieselfde vlak handhaaf nie.

Die sterk span van Suid-Afrika het beide die vroue- en mansafdelings gewen, met Kenia se vroue derde en Botswana se mans tweede.

Drie van die Namibiese spanlede het in Orapa agtergebly om in ‘n ontwikkelingstoernooi teen die gasheerspan, asook teen Kenia, Zambië en Suid-Afrika te deel te neem.

Willem Esterhuizen, Gordon Damster en Freddie Fouché het hulle by Kat Steenkamp, Marinda Bezuidenhout en Elzaan de Vries in Orapa aangesluit.

Anjuleen Viljoen, president van die Namibië Rolbalvereniging, sê: “Om vir die Statebondspele te kwalifiseer, moes ‘n land tevore altyd die algehele silwer by die Afrika Statekampioenskap behaal het. Op grond van hierdie kriteria het Namibië dus vir die 2026 Spele gekwalifiseer.

“Die enigste probleem is dat ons nog nie terugvoering ontvang het óf rolbal wel deel van die 2026 Spele gaan wees nie. Ons is wel positief dat Namibië die nodige gedoen het om sy hand vir Glasgow op te steek.

“Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) sal ons inlig indien rolbal die groen lig kry, of nie. Of die NNOK by die kwalifiserende kriteria van die verlede gaan hou, weet ons ook nie. Maar ons bly positief.”

[email protected]