Swakop-atlete stel nuwe wêreldrekords vir jonges

Nuwe rekords
Twee atlete van Swakopmund, Stefan Strydom en Juwan Kok, het Saterdag albei wêreldrekords in hul ouderdomsgroepe oortref.

Dit was by die Pupkewitz Foundation Ope atletiekbyeenkoms op Swakopmund.

Strydom (10) het 'n nuwe rekord van 8.85 meter opgestel in die gewigstoot vir seuns onder 11 met 'n gewig van 5 kilogram. Die vorige rekord was 8.56 meter.

Juwan (6) het ook 'n nuwe wêreldrekord in sy ouderdomsgroep opgestel in die hoogspring deur die hoogte van 1.05 tot 1.06 meter te verbeter.

Hy het ook 'n ander wêreldrekord in die staande hoogspring met 'n sprong van 0.79 meter oortref. Die vorige beste merk was 0.78 meter.

Die hoogspringafrigter van die kusdorp se Athletics Development Club, Hennie Horn, vertel dat hulle baie trots is op die twee seuns.

“Dit is fantastiese prestasies. Stefan het verlede jaar ook die onder 10 wêreldrekord gebreek, en Juwan het in 2023 dieselfde gedoen met die vyfjariges.

“Tydens oefensessies spring Juwan eintlik heelwat hoër, maar ons verbeter die rekord met net een sentimeter weens veiligheidsredes.”

Stefan en Juwan is albei lede van Athletics Development Club (ADC) en ook albei leerlinge van Pro-Ed Akademie op Swakopmund.

“Met hul rekords verlede jaar, en nou hierdie ook, beteken dit dat daar nou geen ander klub op Swakopmund is met vyf ouderdomsgroep-wêreldrekords nie. Ons is baie trots daarop!”

Horn vertel dat die ondersteuning wat hulle ook kry, 'n groot rol speel.

“Die byeenkoms, die Pupkewitz Foundation Ope, word vier keer per jaar gehou, en die Pupkewitz-stigting is ons hoof- en enigste borg. Hulle ondersteun ons 100% en maak dit vir ons moontlik.

“Dit is die tipe ontwikkeling wat ons moet doen vir ons jonger atlete. Dit is nie net Juwan en Stefan nie; daar is vele ander atlete wat die talent het en wat in die toekoms goed kan presteer.”

“Om jou naam op 'n lys te sit met atlete soos Usain Bolt, Blanka Vlašic, Stefan Holm – dis groot name, en as jy teruggaan, toe hulle 7 en 8 jaar oud was – dis toe hulle op daardie lys was.

“Vir ons klub, die Pupkewitz Foundation, vir die Erongo-streek, vir Namibië beteken dit baie. Ek het 'n klomp gelukwensinge gekry van mense van verskillende lande; so ons kinders word dopgehou. Ek is trots, baie trots.”

Die volgende Pupkewitz Foundation Ope sal op 14 September plaasvind.