Prominente skole bult spiere; Stadion bly gesluit
Atletiek
Windhoek Hoërskool se FNB Vegkopstadion het gistermiddag en -aand ‘n feestelike atmosfeer en puik atletiek beleef met die aanbieding van die eerste driehoekige interhoër teen Windhoek Gimnasium en Windhoek Afrikaanse Privaatskool.Sport Wrap bied môre hoogtepunte van die byeenkoms. Intussen kan die NTV-produksiespan se regstreekse beeldsending van die gesogte byeenkoms hier op ons YouTube-kanaal herleef word: https://q.my.na/EKLY/
Met die ministerie van sport, jeug en nasionale siens se aankondiging gister dat die Onafhanklikheidstadion vir die publiek gesluit bly vanaf 11 tot 21 Maart, is vooruitsigte vir skole-atletiek vir die volgende paar weke juis uiters beperk.
Slegs die Namibiese weermag word by die stadion toegelaat vir oefeninge tot op die land se 35ste Onafhanklikheidsdag, wanneer me. Netumbo Nandi-Ndaitwah ook as Namibië se eerste vroulike staatshoof ingesweer sal word.
Die sluiting van die Onafhanklikheidstadion dwing organiseerders van laerskole-atletiek in die Khomasstreek om ander planne te beraam met die geskeduleerde byeenkomste vir sones A, B, C en D.
Sokker-administrateurs moet ook alternatiewe reëlings tref met twee wedstryde wat gedurende hierdie periode in die Onafhanklikheidstadion gespeel sou word.
Die bewaarders van Namibiese senior en skole-atletiek was in die verlede dikwels geskok oor die fisiese skade wat aan die baan aangerig is deur die verkeer van swaar voertuie tydens nie-sportverwante politieke of musiekbyeenkomste wat by die Stadion bespreek is, wat ook die Stadion se aansien as ‘n venue by internasionale sportorganisasies beïnvloed het.
Die ministerie van sport se uitvoerende direkteur, mnr. Mbumba Erastus Haitengela, het in gister se verklaring gesê hoewel die ministerie verskoning vra en begrip het vir die ontwrigting wat die reëling vir deelnemers inhou, is die omstandighede buite hul beheer.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article