Gees, spoed en kompetisie by interskole
Atletiek
Die reënweer het die program ietwat belemmer en die finale spanuitslae was gister nog nie bekendgemaak nie, maar die byeenkoms was propvol belofte en gees.
Die eerste driehoekige skole-atletiekbyeenkoms tussen Windhoek Hoërskool, Windhoek Gimnasium en Windhoek Afrikaanse Privaatskool het vele belowende atlete by WHS se FNB Vegkop-stadion bymekaar gebring.Teen gister kon geen van die skole se sportorganiseerders bevestig watter skool die meeste punte behaal het nie.
Vanweë die laataand-einde met bykans ‘n uur se vertraging weens reënweer, was daar ook geen seremonie om die individuele ludorum-wenners aan te wys nie.
Vanaf die opbou na die eerste baan- en velditems het al drie skole sterk skoolgees getoon, met leerders wat hul skole opgewonde met sang en dirigente ondersteun het.
Die Vegkop-pawiljoene was gevul met skoliere, ouers, oudskoliere en ondersteuners, wat ‘n heerlike atmosfeer geskep het.
Onder die mededingers was verskeie atlete wat Namibië reeds internasionaal verteenwoordig het, wat tot ‘n hoë vlak van kompetisie bygedra het. Die 200m- en 100m-wedlope was die mees intens, met die skare op hul voete vir elke kop-aan-kop stryd.
Die seuns onder-19 100m-finaal het ‘n ongelooflike gelykop wedloop tussen Lance Kahindi van Windhoek Gimnasium en Ettienne Lombard van WAP gelewer.
Op ‘n vraag oor die belangrikheid van die geleentheid, het Kahindi gesê: “Dit voel regtig spesiaal om die eerstes te wees wat hierdie kans kry. Ons sal die eerste rekords opstel, en ons is opgewonde om te sien hoe die jonger atlete ons rekords probeer oortref.”
Lombard het bygevoeg: “Dit (nuwe rekords) gaan moeilik wees; ons het dit nie vir hulle maklik gemaak nie.”
Die verrigtinge het met die 400m-wedlope begin, wat die verhoog vir die aand se program geopen het.
Reën het egter ‘n vertraging veroorsaak, en al die hekkiesitems is om veiligheidsoorwegings geskrap.
Ten spyte van die uitdagende toestande het die deelnemende baan- en veldatlete aangehou en gewys waarvan hulle gemaak is.
“Dit wys net wat harde werk vir ‘n atleet kan doen,” het Elijah de Klerk, wenner van die 400m vir seuns o.15, gesê toe hy gevra is hoe dit voel om in die reënerige toestande te hardloop.
Kaylin Mayers van WAP, wat die 400m-wedloop vir meisies o.15 oorheers het, het haar selfvertroue gewys en gesê: “Dis my eerste jaar om deel hiervan te wees, maar ek het eintlik gedink dit gaan heelwat moeiliker wees.”
Nadat die reënweer opgeklaar het, het die kompetisie hervat, met atlete wat steeds sterk prestasies gelewer het.
Uitslag nog onbeslis
In die laaste items van die aand, die 4x100 aflosresies, het al drie skole se spanne met mening meegeding. Windhoek Gimnasium het as die sterkste uit die stryd getree en vier van die ses aflosse gewen, terwyl WAP en WHS elk een oorwinning bygevoeg het.
Ten spyte van die reën se vertraging van die program was die hoofstad se eerste groot driehoekige interskole-atletiekbyeenkoms suksesvol met sterk prestasies van al drie skole.
Die byeenkoms het die atlete se vlak van talent en voorbereiding ten toon gestel, en die suksesvolle debuut dui daarop dat dit ‘n gereelde geleentheid in skole-atletiek kan word.
* Die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se nasionale atletiekkampioenskap is vir 1 tot 4 Mei geskeduleer, met Windhoek óf Swakopmund wat nog as die finale venue bevestig moet word.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article