Bol vurig in Switserland

Atletiek
Tielman Van Lill
Femke Bol van Nederland het Sondag 'n halwe sekonde van haar Europese 400 m-hekkiesrekord met 50.95 by die Resisprint La Chaux-de-Fonds-byeenkoms in Switserland geknip.

Daarmee het sy maar die tweede vrou in die geskiedenis geword wat deur die 51-sekondegrens vir die dissipline gebreek het.

Dit is die derde vinnigste tyd van alle tye, agter die 50.65-wêreldrekord wat deur Sydney McLaughlin-Levrone by die Amerikaanse Olimpiese proewe in Eugene verlede maand opgestel was.

Bol, die wêreldkampioen en Olimpiese bronsmedaljewenner, het in Julie verlede jaar haar vorige beste van 51.45 in Londen opgestel. Sy sal teen McLaughlin-Levrone by die Olimpiese Spele vir goud in Augustus kompeteer.

Kemi Adekoya, wie 53.41 gehardloop het, het tweede agter die Nederlandse hekkieskampioen by Wêreldatletiek se Continental Tour Challenger-byeenkoms in La Chaux-de-Fonds geëindig.

Bol se landgenoot, Nadine Visser en Pole se Pia Skrzyszowska, het albei persoonlike beste tye in 'n knap 100 m-hekkies-eindstryd opgestel, Visser het haar Nederlandse rekord tot 12.36 verbeter om 'n byeenkomsrekord op te stel en Skrzyszowska het net 0.01 van die Poolse rekord met 12.37 geëindig. Visser het vroeër 0.04 van haar eie nasionale rekord met 12.42 in die uitdunne geneem.

Benjamin Richardson, Suid-Afrika se tweemalige medaljewenner by die o.20-Wêreldkampioenskap, het 'n byeenkomsrekord van 9.86 gehardloop om die 100 m te wen.

Die 20-jarige het vir die eerste keer tot onder 10 sekondes gesak. Hy verbeter op sy vorige 10.08 wat hy in die uitdunne geëwenaar het om Ronnie Baker (9.95) en Ebrahima Camara (9.98) te klop.

Richardson het teruggekeer met sy eerste sub-20.00 in die 200 met 19.99 op die stophorlosie vir ‘n tweede plek in die finaal.

Mujinga Kambundji, Switserland se 2022 binneshuise 60 m-wêreldkampioen, het die byeenkomsrekord geëwenaar met 10,90 – net 0,01 van haar eie nasionale rekord in die 100 m-finaal. Haar landgenoot Salome Kora was tweede in 10.95 en behaal haar eerste sub-11.00 lopie. Jessica-Bianca Wessolly het die vinnigste in die 200 met 22.50 gevaar.

Nog 'n byeenkomsrekord het in die verspring vir mans geval toe die tuisster, Simon Ehammer, 8.36 m en net 9 cm van sy nasionale rekord, in die laaste ronde gespring het.



Salwa Eid Naser het 'n byeenkomsrekord van 49.66 gehardloop om die 400 voor Henriette Jaeger te wen. Die 21-jarige Jaeger het amper 'n sekonde van haar persoonlike beste geneem met 49.85. Anthony Pesela het die 400 vir mans in 44.99 gewen.